Handelinge 9:"Maar
Saulus, wat nog dreiging en moord geblaas het teen die dissipels van
die Here, het na die hoëpriester gegaan en van hom briewe gevra aan die
sinagoges in Damaskus, sodat as hy mense sou vind wat van die Weg was,
manne sowel as vroue, hy hulle geboeid na Jerusalem kon bring.
En
toe hy op sy reis naby Damaskus kom, omstraal hom skielik ‘n lig van
die hemel af; en hy val op die grond en hoor ‘n stem vir hom sê: Saul,
Saul, waarom vervolg jy My? En hy sê: Wie is U, Here? En die Here
antwoord: Ek is Jesus wat jy vervolg. Dit is hard vir jou om teen die
prikkels te skop.
En
terwyl hy bewe en verbaas was, sê hy: Here, wat wil U hê moet ek doen?
En die Here antwoord hom: Staan op en gaan na die stad, en dit sal jou
gesê word wat jy moet doen. En die manne wat saam met hom op pad was,
het sprakeloos gestaan terwyl hulle wel die stem hoor, maar niemand sien
nie. Toe staan Saulus van die grond af op, en alhoewel sy oë oop was,
het hy niemand gesien nie; en hulle het hom aan die hand gelei en in
Damaskus ingebring. En drie dae lank het hy niks gesien nie, en niks
geëet of gedrink nie. En daar was ‘n dissipel in Damaskus met die naam
van Ananías; en die Here het vir hom in ‘n gesig gesê: Ananías! En hy
antwoord: Hier is ek, Here.
Toe
sê die Here vir hom: Staan op en gaan na die straat wat genoem word
Reguitstraat, en vra in die huis van Judas na ‘n man met die naam van
Saulus van Tarsus, want kyk, hy bid; en hy het in ‘n gesig ‘n man met
die naam van Ananías sien inkom en hom die hande oplê, sodat hy weer kon
sien. Maar Ananías antwoord: Here, ek het van baie mense aangaande
hierdie man gehoor hoeveel kwaad hy u heiliges in Jerusalem aangedoen
het; en hy het hier volmag van die owerpriesters om almal te boei wat u
Naam aanroep. Maar die Here sê vir hom: Gaan, want hy is vir My ‘n
uitverkore werktuig om my Naam te dra voor nasies en konings en die
kinders van Israel.
Want
Ek sal hom toon hoeveel hy vir my Naam moet ly. En Ananías het gegaan
en in die huis gekom en hom die hande opgelê en gesê: Saul, broeder, die
Here het my gestuur, naamlik Jesus wat aan jou verskyn het op die pad
waarmee jy gekom het, sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees
vervul word. En dadelik het daar iets soos skille van sy oë afgeval, en
hy kon onmiddellik weer sien; en hy het opgestaan en is gedoop.
En
nadat hy voedsel gebruik het, het hy weer sterk geword. En Saulus was
‘n paar dae saam met die dissipels in Damaskus. En hy het dadelik
Christus in die sinagoges verkondig, dat Hy die Seun van God is. En
almal wat hom gehoor het, was verbaas en het gesê: Is hy nie die man wat
in Jerusalem uitgeroei het die wat hierdie Naam aanroep, en hier gekom
het met die doel om hulle geboeid na die owerpriesters te bring nie?
Maar
Saulus het al meer krag ontvang en die Jode wat in Damaskus woon, in
die war gebring deur te bewys dat Hy, Jesus, die Christus is. En ná
geruime tyd het die Jode beraadslaag om hom om te bring. En hulle plan
het aan Saulus bekend geword. En hulle het die poorte dag en nag bewaak,
dat hulle hom kon ombring; maar die dissipels het hom geneem en in die
nag deur die muur neergelaat deur hom in ‘n mandjie te laat afsak.
En
toe Saulus in Jerusalem aankom, het hy probeer om by die dissipels aan
te sluit; maar almal was vir hom bang, omdat hulle nie geglo het dat hy
‘n dissipel was nie. Maar Bárnabas het hom geneem en na die apostels
gebring en hulle vertel hoe hy op die pad die Here gesien het en dat Hy
met hom gespreek het, en hoe hy in Damaskus vrymoediglik in die Naam van
Jesus gespreek het. En hy het saam met hulle in— en uitgegaan in
Jerusalem en vrymoediglik gespreek in die Naam van die Here Jesus, en
ook met die Griekssprekende Jode gepraat en geredetwis, maar hulle het
probeer om hom dood te maak.
En
toe die broeders dit agterkom, het hulle hom na Cesaréa afgebring en
hom na Tarsus weggestuur. En die gemeentes deur die hele Judéa en
Galiléa en Samaría het vrede gehad; en terwyl hulle opgebou is en
gewandel het in die vrees van die Here en die vertroosting van die
Heilige Gees, het hulle vermeerder.
En
onderwyl Petrus oral rondgaan, het hy ook gekom by die heiliges wat in
Lidda woon; en hy het daar ‘n man gevind met die naam van Enéas, wat al
agt jaar bedlêend en verlam was. En Petrus sê vir hom: Enéas, Jesus
Christus maak jou gesond; staan op en maak jou bed op! En hy het dadelik
opgestaan. En al die inwoners van Lidda en Saron het hom gesien en
hulle tot die Here bekeer. En in Joppe was daar ‘n sekere dissipelin
met die naam van Tabíta, wat, as dit vertaal word, beteken Dorkas. Sy
was oorvloedig in goeie werke en aalmoese wat sy gedoen het. En in dié
dae het sy siek geword en gesterwe, en hulle het haar gewas en in ‘n
bovertrek neergelê. En omdat Lidda naby Joppe was en die dissipels
gehoor het dat Petrus daar was, het hulle twee manne na hom gestuur wat
hom moes smeek dat hy sonder uitstel na hulle moet oorkom.
En
Petrus het opgestaan en saam met hulle gegaan. En toe hy daar kom,
bring hulle hom in die bovertrek; en al die weduwees kom by hom staan en
ween en wys hom die onder— en bo-klere wat Dorkas alles gemaak het toe
sy nog by hulle was. En Petrus het almal buitentoe gestuur en
neergekniel en gebid. En hy het hom na die liggaam gedraai en gesê:
Tabíta, staan op! En sy het haar oë oopgemaak; en toe sy Petrus sien,
het sy regop gesit. En hy gee haar sy hand en laat haar opstaan. Daarop
roep hy die heiliges en die weduwees en stel haar lewendig voor hulle.
En dit het bekend geword in die hele Joppe, en baie het in die Here
geglo. En hy het ‘n geruime tyd in Joppe gebly by ‘n sekere Simon, ‘n
leerlooier."