Johannes 20:
"Die leë graf
Die
Sondagmôre vroeg, toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die
graf en sien dat die klip van die graf af weggerol is. Sy hardloop toe
en gaan na Simon Petrus en na die ander dissipel toe vir wie Jesus baie
lief was, en sê vir hulle: “Hulle het die Here uit die graf weggevat, en
ons weet nie waar hulle Hom nou begrawe het nie.”
Petrus
en die ander dissipel het toe uitgekom en na die graf toe gegaan. Die
twee het saam begin hardloop, maar die ander dissipel het vinniger as
Petrus gehardloop en eerste by die graf gekom. Toe hy vooroor buk, sien
hy die doeke lê, maar hy het nie ingegaan nie. Ná hom het Simon Petrus
ook daar aangekom, en hy het in die graf ingegaan. Hy sien toe die doeke
daar lê, ook die doek wat om Jesus se kop was. Dié doek het nie by die
ander doeke gelê nie, maar was eenkant afsonderlik opgerol. Daarna het
die ander dissipel, wat eerste by die graf gekom het, ook ingegaan, en
hy het dit ook gesien en geglo.
Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie.
Daarna het die dissipels weer huis toe gegaan.
Jesus verskyn aan Maria Magdalena
Maar
Maria het buite by die graf bly staan en huil. Terwyl sy huil, het sy
vooroor gebuk om in die graf in te kyk. Toe sien sy twee engele met wit
klere aan daar sit waar die liggaam van Jesus gelê het, een waar die kop
en een waar die voete was. Hulle vra toe vir haar: “Mevrou, waarom huil
jy?”
Sy antwoord hulle: “Omdat hulle my Here weggevat het en ek nie weet waar hulle Hom nou begrawe het nie.”
Nadat
sy dit gesê het, het sy omgedraai en vir Jesus daar sien staan, maar sy
het nie geweet dat dit Hy is nie. Jesus vra haar toe: “Mevrou, waarom
huil jy? Vir wie soek jy?”
Sy
het gedink dit is die tuinopsigter, en sy het vir hom gesê: “Meneer, as
u Hom weggevat het, sê vir my waar u Hom begrawe het, en ek sal Hom
daar gaan haal.”
Jesus
het vir haar gesê: “Maria!” Sy draai na Hom toe en sê in Hebreeus vir
Hom: “Rabboeni!” Dit beteken leermeester. Jesus sê toe vir haar: “Moet
My nie vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader toe opgevaar nie.
Maar gaan na my broers toe en sê vir hulle: ‘Ek vaar op na my Vader toe,
wat ook julle Vader is, na my God, wat ook julle God is.’ ”
Maria Magdalena het toe vir die dissipels gaan sê: “Ek het die Here gesien!” En sy het ook vertel wat Hy vir haar gesê het.
Jesus verskyn aan sy dissipels
Daardie
Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was
omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan
staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!”
Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy vir hulle. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien.
“Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”
Nadat
Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees!
As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God
vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe
nie.”
Tomas,
wat ook Didimus genoem is, een van die twaalf, was nie by die dissipels
toe Jesus gekom het nie. Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het
die Here gesien!”
Maar
hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien
en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy
steek nie, sal ek nooit glo nie.”
Jesus en Tomas
Ag
dae later was Jesus se dissipels weer bymekaar, en Tomas was by hulle.
Hoewel die deure gesluit was, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan
en gesê: “Vrede vir julle!”
Daarna
sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring
jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie,
maar wees gelowig.”
En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!”
Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”
Jesus
het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is
nie, voor sy dissipels gedoen. Maar hierdie wondertekens is beskrywe
sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en
sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê."
Saturday, 18 April 2020
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Volg:
Volg : Volg Aksie Kidz vir Jesus Bediening op: https://aksiekidzvirJesusbediening.blogspot.com EN www.aksiekidzvirjesus.co.za

-
Gehoorsaamheid! Vind die verse in: 1. Johannes 14: 2. Deuteronomium 28: 3. Deuteronomium 5: 4. Jakobus 1: 5. 1 Korintiërs 15: ...
-
Verlossing Gebed: Hemelse Vader, ek erken dat ek 'n sondaar is. Ek kom na U toe en vra U om my te vergewe vir my sondes. Ek gee m...
-
Volg Aksie Kidz vir Jesus Bediening op: https://aksiekidzvirJesusbediening.blogspot.com EN https://tersduvenage73.wixsite.com/we...
No comments:
Post a Comment