Johannes 19:
"Jesus word oorgelewer om gekruisig te word
Toe
het Pilatus vir Jesus geneem en Hom laat gesel. Die soldate het 'n
doringkroon gevleg en dit op sy kop gesit. Hulle het vir Hom 'n pers
mantel aangetrek en herhaaldelik nader na Hom toe gekom en gesê: “Ons
groet u, Koning van die Jode!” En elke keer het hulle Hom geklap.
Pilatus
het toe weer buitentoe gekom en vir die Jode gesê: “Kyk, ek bring hom
vir julle buitentoe, sodat julle kan weet dat ek geen skuld in hom vind
nie.”
Toe
het Jesus buitentoe gekom, nog so met die doringkroon op en die pers
mantel aan. Pilatus sê toe vir hulle: “Dit is die mens!”
Toe die priesterhoofde en die wagte Hom sien, skreeu hulle: “Kruisig hom! Kruisig hom!”
“Vat júlle hom en kruisig hom,” sê Pilatus daarop vir hulle, “want ék vind geen skuld in hom nie.”
Die Jode sê toe vir hom: “Ons het 'n wet, en volgens dié wet moet hy dood, omdat hy hom as die Seun van God voorgedoen het.”
Toe
Pilatus dit hoor, het hy nog banger geword. Hy het weer in sy
ampswoning ingegaan en vir Jesus gevra: “Waar kom jy vandaan?”
Jesus
het hom egter nie geantwoord nie. Pilatus sê toe vir Hom: “Praat jy nie
met my nie? Weet jy nie dat ek die mag het om jou los te laat en ook
die mag om jou te kruisig nie?”
En
Jesus antwoord hom: “U sou geen gesag oor My gehad het as dit nie van
Bo aan u gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u uitgelewer het,
groter skuld.”
Hieroor
het Pilatus geprobeer om Hom los te laat; maar die Jode het geskreeu:
“As u hom loslaat, is u nie 'n vriend van die keiser nie. Elkeen wat
homself as koning voordoen, is in verset teen die keiser.”
Toe
Pilatus dit alles hoor, het hy vir Jesus buitentoe gebring en op die
regbank gaan sit op die plek wat Klipterras genoem word, in Hebreeus
Gabbata. Dit was die voorbereiding vir die paasfees, en dit was omtrent
twaalfuur die middag. Hy sê toe vir die Jode: “Hier is julle koning!”
Maar hulle skreeu: “Vat hom weg! Vat hom weg! Kruisig hom!”
Toe vra Pilatus vir hulle: “Moet ek julle koning kruisig?”
Die priesterhoofde antwoord: “Ons het nie 'n koning nie; ons het net die keiser.”
Toe het hy Hom op hulle versoek oorgelewer om gekruisig te word, en hulle het Jesus weggeneem.
Jesus word gekruisig
Jesus
het self sy kruis gedra en uitgegaan na Kopbeenplek toe, soos dit
genoem is, in Hebreeus Golgota. Daar het hulle Hom gekruisig en saam met
Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel.
Pilatus
het ook 'n opskrif geskrywe en dit aan die kruis gesit. Daar het
geskrywe gestaan: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode.” Baie van
die Jode het hierdie opskrif gelees, omdat die plek waar Jesus
gekruisig is, naby die stad was. Die opskrif was in Hebreeus, Latyn en
Grieks. Die priesterhoofde van die Jode het toe vir Pilatus gesê:
“Moenie skrywe: ‘Die Koning van die Jode’ nie, maar skrywe: Hy het gesê:
Ek is die Koning van die Jode.”
Pilatus het vir hulle gesê: “Wat ek geskrywe het, het ek geskrywe.”
Toe
die soldate Jesus dan gekruisig het, het hulle sy boklere gevat en dit
in vier dele verdeel, vir elke soldaat 'n deel. Hulle het ook sy
onderkleed gevat. Dit was sonder naat van bo af in een stuk geweef.
Hulle sê toe vir mekaar: “Ons moet dit nie skeur nie. Kom ons loot wie
dit moet kry.”
Dit
het gebeur sodat die Skrif vervul kan word waar dit sê: “Hulle het my
klere onder mekaar verdeel, en vir my kleed het hulle geloot.”
Dit is wat die soldate gedoen het.
By
die kruis van Jesus het ook nog sy moeder en sy moeder se suster en
Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan. Toe Jesus sy
moeder sien en die dissipel vir wie Hy baie lief was, wat by haar staan,
sê Hy vir haar: “Daar is u seun.”
Daarna sê Hy vir die dissipel: “Daar is jou moeder.”
Van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem.
Jesus sterwe
Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.”
Daar
het 'n kan vol suur wyn gestaan. Die soldate het toe 'n spons vol suur
wyn op 'n hisoptakkie gesit en dit teen sy mond gehou. Nadat Jesus die
suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!”
Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas.
Dit
was Vrydag, en die Jode wou nie hê dat die liggame op die sabbatdag aan
die kruis moes bly nie, want daardie sabbatdag was 'n groot dag. Daarom
het hulle vir Pilatus gevra dat die mense wat gekruisig is, se bene
gebreek en die liggame weggevat moes word. Toe het die soldate gekom en
die bene van die eerste een gebreek en ook dié van die tweede een wat
saam met Jesus gekruisig is. Toe hulle egter by Jesus kom en sien dat Hy
al klaar dood is, het hulle nie sy bene gebreek nie. Maar een van die
soldate het met 'n spies in sy sy gesteek, en daar het dadelik bloed en
water uitgekom.
Hy
wat dit gesien het, lê daarvan getuienis af, en sy getuienis is waar.
Hy weet dat hy die waarheid praat, sodat julle ook kan glo.
Dit
het gebeur sodat die Skrif vervul kan word: “Geen been van Hom sal
gebreek word nie.” En verder sê die Skrif op 'n ander plek: “Hulle sal
Hom sien vir wie hulle deurboor het.”
Jesus word begrawe
Hierna
het Josef van Arimatea, wat 'n dissipel van Jesus was maar in die
geheim, omdat hy vir die Jode bang was, vir Pilatus gevra of hy die
liggaam van Jesus mag neem. Pilatus het sy toestemming gegee. Josef het
toe gegaan en sy liggaam weggeneem. Nikodemus, wat 'n keer in die nag na
Jesus toe gekom het, het ook gekom en 'n mengsel van omtrent vyftig
liter mirre en aalwyn gebring. Hulle het die liggaam van Jesus geneem en
dit met die geurolie behandel en in doeke toegedraai, soos dit die
gebruik van die Jode was om iemand vir die begrafnis uit te lê.
By
die plek waar Jesus gekruisig is, was daar 'n tuin en in die tuin 'n
nuwe graf waarin daar nog niemand begrawe was nie. Daar het hulle Jesus
begrawe, omdat die sabbatdag vir die Jode al amper aangebreek het en die
graf daar naby was."
Saturday, 11 April 2020
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Volg:
Volg : Volg Aksie Kidz vir Jesus Bediening op: https://aksiekidzvirJesusbediening.blogspot.com EN www.aksiekidzvirjesus.co.za

-
Gehoorsaamheid! Vind die verse in: 1. Johannes 14: 2. Deuteronomium 28: 3. Deuteronomium 5: 4. Jakobus 1: 5. 1 Korintiërs 15: ...
-
Verlossing Gebed: Hemelse Vader, ek erken dat ek 'n sondaar is. Ek kom na U toe en vra U om my te vergewe vir my sondes. Ek gee m...
-
Volg Aksie Kidz vir Jesus Bediening op: https://aksiekidzvirJesusbediening.blogspot.com EN https://tersduvenage73.wixsite.com/we...
No comments:
Post a Comment